Totale bladsykyke

Woensdag 16 Oktober 2013

Onderwyskollege Goudstad: 1961 - 1992


Buiteblad van die boek oor die geskiedenis van die Onderwyskollege Goudstad wat eersdaags verskyn.
























































BYDRAES VAN OUD-STUDENTE

Bydrae 1: Johanni la Vita
Ek was natuurlik van 1965 tot 1968 op Goudstad en toe ek jou blog lees, het die nostalgie ingeskop en oorgeloop (as jy my sal toelaat om die metafore so te meng). Ek het letterlik járe laas aan dié plek gedink; tot onlangs toe ek twee medegenote van ’n Bybelstudie-groep vir ete uitgeneem het sodat ons mekaar beter kon leer ken: Jan-Piet en Ria Bosman. Toe ek noem dat ek op Goudstad studeer het en Afrikaans en Engels as hoofvakke gehad het, verhelder Jan-Piet se oë en hy sê: “Dan het my pa sekerlik vir jou Engels gegee/” Ja, inderdaad: liewe mr Bosman.
Vir sy sonde moes hy ook General English vir die LO-manne gee. (Dis nou toe dit nog PT was.) Hy vertel toe eendag vir ons hoe dié manne Engelse lesse aangebied het vir proefonderwys, by ’n Engelse laerskool nogal. Hy het dit vir hulle op die hart gedruk dat die inleiding van ’n les baie belangrik is omdat jy só die leerlinge se aandag onmiddellik sal vasvang en behou.
Hier kom die vleispaleis (was sy naam Julius de Kock?) die graadeen-klas met ’n massiewe leertas binne en plaas dit op die tafel. Alle ogies op Sir  waar hy die tas versigtig oopmaak en sy kop daarin verdwyn. Aha! dink die dosent: 10-uit-10 vir die Inleiding. Toe kom ’n pragtige rooi appel te voorskyn en hy sê op sy beste Ingels: “Class, this is a apple. Say after me: This is a apple.” Die graad-eentjies is ook nie links nie en die koor klink op:  “This is a apple.”
Die dosent beduie vir hom om nader te tree en hy fluister:
Not A apple, AN apple!”
“O ja! Sorry sir! Vergeet.”
Die kop verdwyn weer in die tas, die nekkies rek, alle ogies op die towenaar en hy verskyn met ’n piesang in die hand.
Die dosent ontspan; geen probleem hier nie.
“Class! Say after me: This is AN banana.”
Die koor volg: “This is AN banana.”
Toe móés die dosent net ingryp en vir die klas verduidelik van die a en die an en vokale en sommer hoop dat die student dit ook begryp en verstaan en onthou.
Ons groep van agt meisies wat in Engels gespesialiseer het, het gehuil soos ons lag. My liewe, heel beste vriendin, Wilma Landman, was saam in die klas, asook Joan van der Merwe. Die jare vee die ander name nou uit my kop, maar as ek na ons diplomaplegtigheid se foto’s kyk, ken ek hulle almal só goed. Hulle het almal sulke ge-tease-de haarstyle gehad.
Miss Margot Ford – what a lecturer – het vir ons English Literature gegee en ek sal nooit vergeet nie hoe sy in een aand oor die telefoon vir my T.S. Eliot se The Journey of the Magi verduidelik het sodat ek dit die volgende dag vir ’n matriekklas by Hoërskool E.G.Jansen kon leer. Ek het daar geproef en toe word die Engelse Juffrou baie siek en moes ek sommer oorneem.

Die rektor, A.W. Muller en mev. Hamman, ons koshuismoeder, het nie van my gehou nie. Sy stuur my eendag ‘kantoor’ toe oor my kleredrag en die man spreek my toe aan oor my ‘kommunistiese’ neigings. Toe ek vra waarmee hulle nou eintlik ’n probleem het, vind ek uit dat my Bobby socks wat tot onder die knie kom, darem te volksvreemd is. Ek stem toe nie saam nie en hou aan om dit te dra. Teen die einde van die winter het omtrent niemand meer kort sokkies of sykouse gedra nie en hulle moes maar vir lief neem dt die meeste dames ‘kommunistiese’ neigings onder die knie gehad het.



Een van die beste plekke op kampus was die boekwinkel waar ek na hartelus boeke kon koop op my beursonkoste. Toe Breytenbach se eerste bundel verskyn, het ek dit opgeraap. ’n Bundel met ’n titel soos Die ysterkoei moet sweet móés gelees word. En daar lees ek my eerste Afrikaanse vloekwoord swart op wit: die digter sê sowaar dat die eende op die graf k.. Amper 50 jaar later land dié bundel by my seun  nadat ek dit eers vir my sus, Martha, gegee het en sy dit aan my teruggeskenk het. Hy vra toe vir sy vriend, Breyten, om dit te teken en wat dink jy sê dié woordkunstenaar nadat hy die inskripsies tussen susters voorin gelees het? “Martha en Johanna is sulke eerlike name, stem jy nie saam nie, Murray?”


Bydrae 2: Johanni la Vita
Miskien moet ek jou eers aan die RAU herinner en waarom ek jou Willem (ook ’n oud-Goudstadter) en nie Willie noem nie. Na 20 jaar se skoolhou met my GOK-diploma gaan ek toe na die Randse Afrikaanse Universiteit toe om ’n graad te kry.
Die eerste dag in die Afrikaanse Taalkundeklas kom hierdie lang professor die lokaal binne en spreek ons groep van oor ’n 100 studente toe. Ek bekyk hom so en wonder wáár op aarde ek dié man al voorheen gesien het. Hy gebruik vloekwoorde soos boomdiagramme en sintaksis. Ek sit maar daar en probeer intelligent lyk. Na soveel jare van Afrikaans tweedetaal-Juffrou is ek toe heel uit voeling met die taalkunde. Aan die einde van die lesing vlieg die eerstejaars op en storm uit en die professor kom reguit na my toe aangestap. O wee, wat nou? Hy vra toe wat my naam is en ek sê “Mevrou La Vita”. En toe gaan die lig op en ek roep uit: “Haai, Willie! Hoe gaan dit?”
Toe verduidelik hy dat hy intussen (deur die toedoen van sy oud-promotor, wyle prof. Willem de Klerk van Unisa) Willem geword het en ek sê ek is Johanni. Ons kom toe ooreen dat dit dan nou só sou bly. Geen ge-Willie en ge-Johanna van Heerden nie. En daar begin ons nuwe verhouding toe van “slim” professor en “dom” student totdat ek later deur hom Kognitiewe Linguistiek vir my Magistergraad onderrig is. Willem het  my in myself en my potensiaal laat glo. Ek sal nooit die dag vergeet toe ek vir hom (in ’n Sintaksis-honneursklas) vra hoe om ’n stukbeeld vir die sin  “Wat jy wát mee wil maak?” te trek en hy nie kon nie. Lekkerrrr! Hy het dit natuurlik uiteindelik uitgepluis. Natuurlik! Dankie, prof. Willem.
En nadat ek die B.A.-graad voltooi het en weer terug is skool toe, toe vind ek uit dat ek nog net dieselfde GOK-Juffrou is, met ’n stukkie opgerolde papier êrens in my kas. Om Bart Nel so ’n bietjie aan te pas: Ek was nog sy. Die lus vir die akademie het my egter nooit verlaat nie.
Van Nel gepraat: Nel – Nel – Nel.
Mnr. Fanie Nel (oud-Afrikaansonderwyser aan D.F. Malan) het vir ons Afrikaanse Letterkunde op Goudstad gegee. Eendag gee hy toe vir ons ’n onaangekondigde toets met net een vraag: “Wie is jou gunsteling Afrikaanse digter en hoekom?”
Gelukkig het Andries Knoetze vir my op skool Afrikaans gegee en ’n liefde vir poësie in my taal aangeleer. Ek het toe ’n voorkeur  vir I.D. du Plessis se verse ontwikkel en soos dit my gewoonte was (met my obsessiewe kompulsiewe neigings), omtrent al sy gedigte gememoriseer. Ek trek toe daar weg en skryf vir oom Fanie so uit my hart uit hoekom ek so lief was vir I.D. en haal bladsye vol gedigte aan. Die volgende week kom hy terug met die toetse en vra my om my toets aan die klas voor te lees. Ek het my byna dood geskaam, veral toe hy aan die einde sê dat my onderskeiding die enigste in die klas is en dat dit is hoe ’n toets moet lyk.
Ek het tot in daardie stadium met slepende voete na die Afrikaanse klasse toe gegaan omdat ek in Engels en Kuns wou spesialiseer. Omdat daar nie genoeg Kuns-studente was nie, moes ek toe Afrikaans doen, maar na Fanie Nel se toets het dinge verander, drasties verander! Wys jou net hoe een mens deur ’n ander beïnvloed kan word. Sy tragiese dood was vir my ’n persoonlike tragedie: ek kon nie die kloutjie mooi by die oor kry dat so ’n slim man en goeie onderwyser nie meer kans sou sien vir die lewe nie.
Fanie Nel was ons groep se oppasser gedurende ons weeklikse toetse en daar leer hy ons toe van ‘n “oopboek-toets”. Hy het vir ons gesê dat ons maar ons Opvoedkundeboeke saam die klas  kon inneem vir die toets. Daar staan in elk geval niks nuttigs in nie. Almal het te heerlik gesit en afskryf, maar my Calvinistiese opvoeding en sensitiewe gewete het my darem baie skuldig laat voel en ek het net so nou en dan skelm in die boek geloer ... terwyl onse Fanie buitekant die lokaal staan en rook het.

Nou onthou ek ’n ander baie snaakse insident wat in retrospek seker nie so snaaks was nie. Daar was ’n Nel-tweeling genaamd Elna en Francois saam met ons: baie slim jongmense. Francois was baie verfynd en het die mooiste reguit, blonde bos hare gehad wat hy so lank as wat toelaatbaar was, gedra het. Eendag besluit ’n groep Panorama-koshuis se homofobiese dames om stout te wees: hulle ontvoer vir Francois en kleur sy pragtige blonde hare PERS. Ek was nie deel van die groep nie. Belowe. Hy moes weke lank daarmee rondloop. En nou onthou ek my vriendin Têkkies ook. Annemarie Groenewald? Ai, dit was heerlike jare, dié van 1965 tot 1968.

Bydrae 3: Strelsa Fourie
Ek het ver teruggedink toe ek jou e-pos oor die Goudstad Onderwyskollege gelees het. Ja, ek was ook ’n Gokkie vanaf 1961 tot 1962. Ek het n tweejaar-diplomakursus geloop. Mnr. Nieuwoudt van die Laerskool Crosby het my ’n graadeen-pos aangebied.
Ek moes maar met die munisipale bus ry en het dan in Vrededorp by die begraafplaas afgeklim en het  dan die bult afgestap na die kollege. In die middae het ek weer die bult uitgestap. In die winter was ek bevrore as ek daar aankom. In die somer het my kaiings in die middae gebraai. Dan was daar nog die reëndae waartydens ek sopnat gereën het! By die bushalte moes ek maar wag totdat daar ’n bus van die stad af gekom het. Die meeste van die tyd het dit eenvoudig verbygery omdat dit reeds vol was! 
Dan maar wag vir die volgende een wat soms ook verbygery het sonder om te stop. Dan het ek watter tyd by die huis gekom! Ja-nee, ek het ook maar moeilik aan my ‘geleerdheid’ gekom!!
Ek het my tyd by Goudstad geniet. Ek onthou ’n keer toe ons in die Skilpadsaal in Pretoria was. Ek kan nie onthou of ons vir atletiek in Pretoria was nie. Een jaar was ons na die Heidelbergse Onderwyskollege vir ’n atletiekbyeenkoms. Ek onthou ook die lekker ‘sing-song-aande’.
Ek was vrekbang vir die LO-klasse, want ek was te klein en kort om oor die apparate te spring. Ek het gereeld net tot op die apparaat gekom en daar het ek dan vasgesit en kon nie af nie! Gelukkig het die dosent my met mooipraat en aanmoediging gehelp tot ek dit kon doen. Die ander dames het hulle dan byna doodgelag vir my!! Ek was nog nooit n sportuitblinker nie! Die Aardrykskundedosent het nuwe wêrelde vir my laat oopgaan, in so ’n mate dat dit my gunstelingvak geword het! Ek onthou ook vir mnr. Ben de Koker. Ek meen hy het vir ons Engels gegee.
Ons was elf studente wat die heel eerste diplomas  ontvang het en die geleentheid het in die verpleegsterstehuis se eetsaal plaasgevind! Niks “grands” nie; geen fieterjassies nie!!
Ek was pas 19 toe ek begin skoolhou het – pure kind!


Bydrae 4: Sjaas Reineke
GOK-suksesverhale: verhale van eerstegenerasie-Gokkies wat in hulle loopbane presteer het.
In Januarie 1961 het eenhonderd-en-vyftien van ons by die Cottesloe-kampus van die nuwe Goudstadse Onderwyskollege aangemeld. Ons was in alle opsigte ’n variasie op die tema van onderwysstudente – variasies ten opsigte van ouderdom, skolastiese prestasie, geografiese herkoms, geslag en vele meer. Na die voltooiing van ons kursusse het van ons die einddoel bereik om tot hoofde van skole of inspekteurs van onderwys bevorder te word – die aanstellings waarvoor ons opgelei is en waarvoor talle geaspireer het.
In hierdie artikel wil ek egter die soeklig laat val op daardie oud-Gokkies wat op ander terreine van die lewe gepresteer het – sommige van hulle wat tydens hulle studentejare nie vir trofeë in voortreflikheid en uitnemendheid sou kwalifiseer nie. Maar die verdere vorming en opleiding wat hulle by die GOK ontvang het, moes myns insiens ’n bydraende rol in hulle suksesverhale gespeel het. Hier is ’n paar voorbeelde waarvan ek bewus is.
Ek ken hulle nie.”
Die heel eerste rugbywedstryd wat ’n bymekaar-geskraapte en gelapte GOK-span gespeel het, was ’n vriendskaplike wedstryd teen die 0/20-span van Wits. Van ons ouens het bykans geen rugby-ervaring of -prestasie op kompeterende vlak op hoërskool gehad nie.
Die fluitjie vir die begin van die wedstryd het geblaas. Ek het eerste afgeskop, hulle het gaan druk; ek het weer afgeskop, hulle het gaan druk; ... en so het dié patroon hom met eentonige reëlmaat herhaal. Toe die fluitjie genadiglik halftyd aankondig, was ons in die omgewing van 50 – 0 agter.
Dis toe dat van die Witsies langs die kantlyn een van ons spelers se ouers nader om te verneem watter span so verniel word. Haar antwoord: “Ek ken hulle nie.”
Die tweede helfte het eweneens katastrofies vir ons span verloop. Ek het vir die eerste keer in my rugby-wedervaringe ’n kramp in my kuit gekry as gevolg van al die afskoppe wat ek moes waarneem. Die wedstryd het genadiglik vyf minute vroeër tot ’n einde gekom toe die Witsies op die punt was om 100 punte teen ons aan te teken. 
Ek is trots om hulle te ken
Vier jaar later het Goudstad se 0/20-span sy liga gewen deur onder andere Wits se 0/20’s uit te skakel. Toe ek jare later as dosent by my alma mater aangestel is, het die kern van Transvaal se provinsiale span uit spelers van Goudstad bestaan, by name Gerrie Germishuys, Hempas Rademeyer, Barabas Venter, Julius de Kok en Ockert Botha. Inderdaad, GOK het ’n krag in Transvaalse rugby geword.
“You can’t keep a good man down”
Terwyl ek op ’n dag in ’n lesing sit, word ek as SR-Voorsitter deur die rektor, toe nog mnr A.W. Muller, na sy kantoor ontbied. Op pad daarheen wonder ek wat verkeerd geloop het?
Ek stap sy kantoor binne. Voor hom staan Abe Hatting, een van daardie staatmaker-studente sonder wie jy nie ’n jool aanpak nie – ’n bondel energie as daar gesokkkiejol word. Die Rektor is besig om hom die leviete voor te lees oor sy kommerwekkende akademie. Hy haal ’n lang lys van versuim aan om sy standpunt te illustreer. Dan kom die onheilspellende woorde: “Mnr Hatting, ek oorweeg dit om jou kursus te kanselleer.” Hy kyk met daardie deurpriemende oë na my en vra my vir kommentaar. Ek stamel en “oe” en “aa” op soek na versagtende omstandighede. Ek klink vir myself nie juis oortuigend nie. Die Rektor haal sy tabak uit sy lessenaar se laai, stop sy pyp teen ’n senutergende tempo, steek sy pyp aan, trek diep en peinsend daaraan, kyk dan op na Abe en vra: “Mnr Hatting, wat het jy nog vir jouself te sê?” Ek stuur ’n skietgebed op dat Abe tog nie nou die verkeerde ding moet sê en sy studentejare in die proses kortknip nie.
Daar volg ’n swanger stilte. Ons oë is albei op Abe gerig in afwagting op sy antwoord wat sonder twyfel sy toekoms as student gaan bepaal. En dan kom dit!
“Meneer die Rektor, daar is ’n uitdrukking wat sê: You can’t keep a good man down.” Ek dog die Rektor verstik aan sy pyp. Hy gee hom ’n laaste waarskuwing en stuur hom uit sy kantoor.
Die einste Abe Hatting het met genade sy kursus voltooi en een van Randburg se mees geliefde burgemeesters geword. Hy het die amp ook vir baie jare met onderskeiding beklee. Ja, inderdaad: “You can’t keep a good man down.”
Stewig in die kussings
Een van die woelwater-flanke wat vir ons uitstekende diens op die rugbyveld gelewer het, was Frans Vermeulen. Van die rugbyveld af was hy egter ’n perd van ’n ander kleur. Hy was gereeld by die dosente in die moeilikheid.
Jare later woon ek ’n rugbywedstryd by Ellispark by. Ek is al by ’n paar vorige geleenthede deur skoolseuns voor die ingang na die stadion voorgekeer en gevra of ek nie in ’n snoesige kussing belangstel wat my ure se sit op die ongemaklike stoele van Ellispark meer draaglik sal maak nie. By dié spesifieke geleentheid besluit ek toe om die betrokke seun so ’n bietjie uit te vra oor sy herkoms en die sitplekkussings waarmee hy smous. Groot was my verbasing toe hy my meedeel dat die kussings in twee fabrieke vervaardig word wat deur ’n ene mnr. Frans Vermeulen bestuur word. Glo dit as jy wil, dit was die einste Frans wat seker een van die eerste entrepreneurs geword het nadat hy sy studies by Goudstad voltooi het.
Van hoogspring na hoogleraar
Dit kom seker nie as ’n verrassing nie dat ons tydens die eerste Interkollege maar bra min eerste plekke verower het. Om die waarheid te sê, ons het slegs twee plekke verower, een in hoogspring en ’n eersteplek in die SR se aflos aan die einde van die byeenkoms.
Om die een of ander rede is van die hoogspringprestasie na die tyd melding gemaak onder die naam van die ander hoogspringer wat nie ’n plek behaal het nie. Ons hoogspringatleet wat wel ’n plek behaal het, Willie Botha, se naam is toe nooit genoem nie.
Nadat hy sy graad behaal en diep spore in die onderwys getrap het, het Willie Botha slegs een van ’n paar oud-Gokkies geword wat na my wete ’n professoraat aan ’n tersiêre inrigting behaal het. Hy het van hoogspring tot hoogleraar in Afrikaanse Taalkunde aan die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit gevorder.
Musikale aanleg
Reeds in die eerste jaar van die Kollege se bestaan het ’n studente-dansorkes tot stand gekom met die uitheemse naam: Vaqueros. Die sanger wat van tyd tot tyd saam opgetree het, was Paul Benecke, ’n graadstudent met ’n aanneemlike tenoorstem.
Sy liefde vir musiek, en spesifiek die wêreld van opera en operette, het Paul so besiel dat hy na sy studentejare ’n lid van TRUK (Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste) se koor geword het. Gevolglik het hy oor jare heen in talle uitvoerings van TRUK in die operahuise van ons land opgetree. Sy leierstalent kon ook nie onder ’n maatemmer versteek word nie. Hy het een van die senior koorleiers  geword, ’n verantwoordelike posisie wat hy vir jare lank met onderskeiding volgestaan het.
Daar’s ’n vark in die verhaal
Piet Oosthuizen besluit as Voorsitter van die Joolkomitee dat ’n kompetisie vir die manstudente as ’n inleiding tot die Jool op die A.W. Muller-stadion gehou word. Hy en van sy komiteelede sit koppe bymekaar en besluit dat die mans uitgedaag gaan word om ’n vark te vang.
So gesê, so gemaak. Hy vetrek toe die aand voor die kompetisie saam met sy helpers met ’n bakkie na ’n plaasbestemming honderde kilometers verder om die vark te gaan haal. By hulle bestemming aangekom, word die vark gevang, in ’n sak toegemaak en agter in die bakkie geplaas. Die terugtog neem die res van die nag om te voltooi en hulle kom bleek die oggend net voor die aanvang van die kompetisie by die stadion aan. Daar is reeds ’n redelike opkoms van veral die manlike tipe op die pawiljoen saamgetrek in afwagting vir die ‘vark-vang’-kompetisie om te begin.
Helaas, toe Piet en sy helpers die sak agter in die bakkie oopmaak, vind hulle tot hulle onsteltenis dat die vark die reis nie oorleef het nie. Wat nou gemaak? Hulle kan nie die kompetisie in hierdie kritieke stadium kanselleer nie! Die manne met die durf en die spiere sal hulle dit nie vergewe nie. ’n Mens kan nie die Jool op so ’n antiklimaks afskop nie.
Hulle besluit toe om met die skyn-kompetisie voort te gaan. Hulle dra die dooie vark tot in die middel van die rugbyveld, haal die lewelose liggaam met groot vertoon uit die sak, en stut die karkas tussen-in hulle in ’n staande posisie.     
Die manne maak hulle langs die veld gereed. Die skoot klap en die manne storm op die wenprys af. Daar word geduik en gestoei. ’n Losgemaal soos min vorm bo-oor die helpers en die dooie teiken wat hulle nog probeer vasklou soos wat daar om eerste besit meegeding word. En dan ... die wedywering begin stadig maar seker afneem soos wat die manne begin besef dat iets nie pluis is nie.
Wanneer die laaste bondel opstaan, kan ’n fluistering van skok en ongeloof gehoor word. Die manne staan verleë opsy en betrag hulle slagoffer. Piet en sy helpers gebruik die geleentheid soos wafferse opportuniste om aan te kondig dat die vark ongelukkig nie die stormloop oorleef het nie. Daar kan dus nie ’n wenner wees nie. Ongelukkig was daar nie ’n prys vir vindingrykheid nie. Die Jool kon met nuwe entoesiasme voortgaan.
Piet Oosthuizen het later sy eie opleidingsentrum buite Middelburg in Mpumalanga gevestig. Daar het hy in samewerking met ’n span fasiliteerders duisende leerlinge se lewens- en leiersvaardighede verder opgeknap.
“Is jy dan nou mal?”
As graadstudente moes ons gereeld werkstukke/referate aan dosente by Unisa stuur om nagesien te word. So gebeur dit dat ons in ons derde jaar ’n moeilike werkstuk in Afrikaans voltooi en inhandig.
’n Paar weke later ontvang ons die nagesiende werkstukke met die nodige kommentaar en puntetoekenning van die betrokke dosent. Die kommentaar aan die einde van Jac du Toit se werkstuk wek groot belangstelling. Die skynbaar gefrustreede dosent het die volgende met ’n uitroepteken geskryf:
“Is jy dan nou mal?!”
Dit was voor-die-hand-liggend dat hy nie met Jac se poging beïndruk was nie. Die punt wat hy toegeken het, was ook direk eweredig met sy kras uitlating.
By nabetragting was Jac du Toit se vaardighede in Afrikaans toe nie so bedenklik nie. Hy is later as joernalis by een van ons koerante aangestel, en het ook pionierswerk verrig toe die SAUK-televisiediens in die middel sewentigerjare met sy Afrikaanse nuuskanaal begin het. Jac se leierskap het ook nie ongesiens verbygegaan nie toe hy die aanstelling as hoof van die SAUK se streekkantoor in Durban gekry het.
’n Kinkel tydens die eerste TV- dokumentêre uitsending
Aan die begin van 1975 is die tweede groep regisseurs vir die nuwe SAUK-televisiediens opgelei. Onder hulle was Bill Faure, wat later ’n senior pos by Multi-Choice beklee het, en Danie Odendaal van Sewende Laan-faam. Sjaas Reyneke, een van Goudstad se eerste groep studente, was ook deel van die span regisseurs wat die nuwe TV-kanaal op die lug moes plaas.
In April van daardie jaar word Sjaas na die kantoor van dr. Piet Meyer, hoof van die SAUK, ontbied. Hy kry die opdrag om die eerste volwaardige dokumentêre program vir uitsending op 31 Mei gereed te kry – Republiekdag.
In daardie stadium kon die kykers nog net die bytjies en die blommetjies op hulle tv-skerms betrag. Die nuwe uitsaaisentrum was nog in ’n stadium van voltooiing.
Omdat daar nog geen sprake van televisiespanne was nie, besoek Sjaas al die gevestigde filmoteeks in die land op soek na gepaste filmmateriaal oor Republiekwording en  -feesvieringe – vanaf Presidente C R Swart tot Nic Diedericks. By sy terugkeer begin hy aan die beoogde uitsaaiprogram redigeer soos wat die filmsnitte oor Republiekdag afgelewer word. Hy maak van die fasiliteite in die ou uitsaaisentrum gebruik. Uiteindelik is die dertigminute-program wat op ’n tweeduim-helicalscan-band oorgedra is, gereed vir uitsending – ’n dag voor die 31ste. Die uitsending van die historiese program is reeds met groot afwagting in die pers aangekondig.
Die oggend van die 31ste stap hy en sy span wat die uitsending moet behartig, op na die nuwe uitsaaisentrum. Slegs een eindbeheersentrum in die nuwe kompleks is gereed vir uitsending. Die band word op die videomasjien in telecine geplaas as toetslopie. Tot die span se onsteltenis is daar ’n twee-tot-drie-sekonde beeld- en klankverlies by elke redigeerpunt. Daar is sewe en veertig sulke uitvalle. Die span en die tegnici probeer die hele oggend om die sinkronisasieprobleem op te los – sonder welslae.
Net na middagete stap drr. Meyer en Schutte die ateljee binne. Hulle wil weet of die uitsending voortgaan soos geskeduleer. Terwyl daar gewik en geweeg word, knip dr. Schutte die gesprek kort met die standpunt dat die program uitgesaai sal word, en dat ons die probleem voor die tyd sal oplos. ’n Plan moet net eenvoudig gemaak word. Om dinge te vererger, word ons meegedeel dat die kommunikasie tussen die eindbeheer-ateljee en die videokamer nie in werking is nie. In die praktyk  beteken dit dat die regisseur en die video-operateur, wat in twee aparte lokale sit, nie met mekaar kan praat terwyl die uitsending aan die gang is nie.
Ons sit koppe bymekaar en besluit om net voor die uitsending van die program drie stophorlosies te sinkroniseer, een vir die produksiesekretaresse, een vir die video-operateur en een vir die klankkamer. Die tyd breek aan en die program word met groot afwagting aangekondig. Toe begin die naelbyt-uitsending. Die produksie-sekretaresse tel die sekondes op haar stophorlosie af. Twee sekondes voor die eerste redigeerpunt gee Sjaas die opdrag dat die beeldmenger lewendig op die lug na swart doof, en die volgende sekwens weer na twee sekondes indoof sodat die beeld- en klankverlies nie by die kyker uitkom nie. En so word die beeld en klank sewe en veertig keer op die maat van die produksie-sekretaresse se aftelling uit- en ingedoof terwyl die eerste program van sy soort op die SAUK se televisiekanaal gebeeldsend word. Die span was na die uitsending gedreineer.
Die volgende dag het die koerante met redelike lof  oor die uitsending verslag gedoen. As dieselfde program vandag uitgesaai sou word, sou dit hewige kritiek uitgelok het. Die ironie van hierdie eerste volwaardige uitsending kan ook nie misgekyk word nie, naamlik dat Sjaas en sy span met stophorlosies met mekaar moes kommunikeer in een van ons land se mees gevorderde kommunikasiesentrums.    
’n Gokkie wat sy kop gebruik het
Ons eerste krieketspan speel op ’n dag teen ’n plaaslike klubspan. Ons doen eerste veldwerk. Johan Pretorius, alias Polonie, word deur die kaptein op kort regby geplaas, ’n paar tree van die kolfkampie af.
Een van die kolwers grawe hom in en trek skielik met ’n allemintige trekhou los van ’n bal wat te kort geplant is. Die bal trek teen so ’n spoed in die rigting van Polonie dat hy nie kans kry om dit met sy hande te keer nie. Die bal tref hom teen die kop, word gedeflekteer en spoed grens toe vir ’n vier. Polonie slaan soos ’n dooie os neer. Ons verwag die ergste en hardloop nader. Tot ons verbasing kom hy orent, skud se kop so ’n slag, maak skerstsend die opmerking dat ’n ou in krieket jou kop moet gebruik, en maak hom gereed om met die wedstryd voort te gaan.
Nadat die SAUK-televisiediens to stand gekom het, word Johan Pretorius as een van die eerste nuusaanbieders aangestel. Hy vorder dan ook tot senior redakteur in die nuusafdeling. By nabaat is dit duidelik dat sy kop op en van die veld af reg aangeskroef was.    
’n Besondere aantrekkingskrag
’n Jaar na die Kollege se totstandkoming vind die tweede inname van Gokkies aan die begin van ’n nuwe akademiese jaar plaas. Die onderhoude met die voornemende studente en hulle inskrywings vind in die saal plaas. Die studenteraadslede word ingespan om by die onderskeie tafels behulpsaam te wees waar die registrasies afgehandel word. Ek word by een van die tafels  geplaas om met die logistieke hantering van die kandidate te help.
’n Aanvallige jong dame meld haar vir die onderhoud en vakkeuses by ons tafel aan. Toe sy gevra word watter vakkeuses sy in belang stel, is dit duidelik dat sy in baie opsigte nog onseker is. Terwyl die dosente aan diens poog om vir haar bepaalde inligting en riglyne oor die verskillende opsies te gee, dwaal haar oë oor die ander tafels heen. Tot almal se verbasing doen sy navraag oor ’n spesifieke dosent wat by ’n nabygeleë tafel besig is om leiding aan voornemende studente te gee. Sy word meegedeel dat die persoon in  wie sy so belangstel, mnr Hannes Horne is, die dosent vir Afrikaans, spraak en drama. “Ek wil graag sy klasse bywoon”, is haar spontane reaksie. ’n Mens kan duidelik ’n uitdrukking van geamuseerdheid op die gesigte van die raadgewers sien. In geen stadium voor hierdie student se verskyning is ’n studierigting en vakkeuse op grond van ’n dosent se voorkoms gemaak nie.

Hannes Horne het met verloop van tyd bewys gelewer dat hy meer as net ’n aantreklike voorkoms en talent as verhoogkunstenaar het. Hy het die prestasie behaal om as bestuurder van TRUK (Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste) aangestel te word. Sy posbeskrywing het ondere andere ook die Johannesburgse Operahuis ingesluit. Nog later is hy aangestel as die hoof van SWARUK (Suidwes-Afrika se Raad vir die Uitvoerende Kunste). Sy borrelende persoonlikheid was inderdaad aansteeklik, en het op baie mense oor die jare heen ’n eiesoortige aantrekkingskrag uitgeoefen, soos vir die jong damestudent in 1962.


Bydrae 5: Sjaas Reineke
Studenteraad-ontvlugting
In 1962 het ’n groep studente van die Heidelbergse Onderwyskollege per bus na die Johannesburgse stadsaal gereis om na ’n middagkonsert-uitvoering van die plaaslike simfonie-orkes te luister. Van die manstudente in die Majuba-koshuis het daarvan te hore gekom en besluit om die Heidelbergers te gaan “groet”.
Terwyl ek in my koshuiskamer so teen drie uur die middag met my studies besig was, kom ’n eerstejaar by my kamer ingehardloop. Hy is gestuur om my oor die avontuurlustige manstudente se opmars na die stadsaal in te lig. Ek klim in my tjor en jaag na die plek van afrekening toe. Helaas, toe ek daar arriveer, word ek deur ’n toneel van chaotiese afmetings begroet. Goudstad se studente is besig om die Heidelbergers buite die stadsaal aan te keer en in hulle motors te dwing. Van die Heidelbergse damestudente en die publiek probeer so al wat hulle kan om te verhoed dat die manstudente van Heidelberg gyselaars geneem word. Een bejaarde vrou is besig om  twee van ons mans met ’n sambreel by te kom terwyl hulle ’n Heidelberger in hulle motor probeer boender.
Die volgende dag gee die Heidelbergers in geen onsekere terme nie hulle misnoeë met dié insident te kenne. Die verhouding tussen die twee kampusse is gespanne, om die minste daarvan te sê. Die Studenteraad van Heidelberg lig die SR van Goudstad net voor die Interkollege in dat hulle hul van GOK distansieer. Ons hou vergadering en besluit om ’n versoeningsgebaar voor die Inter aan hulle te stuur. Daar word gereël dat ons SR hulle SR voor die Inter sal besoek om die strydbyl te begrawe.
Die vergadering verloop ook maar met rukke en stote. Dit is duidelik dat die Heidelbergers nie eintlik in ’n vergewingsgesinde bui is nie. Na ’n paar ure se kosmetiese onderhandeling besluit ons dat ons nie verder met die saak sal vorder nie.
Ons stap na ons kombi toe. Die bande is afgeblaas terwyl ons vergadering gehou het!
Skip Henderson, die SR-lid vir Sport, stel ons gerus dat hy die koshuismanne sal opkommandeer om ons te help. Hulle daag daar op, verwyder die pap bande, laat hulle weer oppomp en plaas hulle terug. Ons is gereed om die reis huiswaarts aan te pak.
Ons vra egter dat Bakkes de Jager, die SR-voorsitter, vir ons veiligheid ’n paar manne met hulle motors sal reël om ons tot buite Heilderberg te begelei. Skip Henderson in sy motor en nog een ry voor ons uit. Alles verloop tot in hierdie stadium volgens ooreenkoms. Ons begeleiers trek van die pad af, so ’n paar honderd meter voor die Johannesburg/Oosrand-splitsing en waai “vriendelik” vir ons vanuit hulle motors.
Toe ons egter die splitsing nader, sien ons tot ons ontsteltenis dat minstens vier motors vir ons langs die Johannesburgroete wag. Op die ingewing van die oomblik vat Johan Joubert, ons SR-voorsitter en bestuurder, die uitdraaipad na die Oosrand. Die jaagtog het begin. Johan ry so vinnig as wat hy kan in die rigting van Brakpan, maar die kombi is nie opgewasse teen die sedanmotors nie. Binne ’n paar minute is die Heidelbergse jagekspedisie agter ons. Van hulle motors, onder andere ’n Carmen Gia, kom by ons verby. Die een ry aspris op die regterkant van die pad en laat die klippies teen ons kombi se bakwerk en voorruit reën. Twee van die motors swaai voor ons kombi in, ry al hoe stadiger in die middel van die pad, en forseer ons kombi metteryd tot ’n stilstand. Die Heidelbergse manne klim uit, stap na ons kombi toe en maak allerhande dreigende aanmerkings oor wat met ons gaan gebeur. En dan gebeur die onverwagse. Johan sit die kombi in eerste rat, ry op die twee motors voor ons af, skuur met ’n nare geluid tussen hulle deur, en vat die pad. Nou is die gort gaar.
Die Heidelbergers kom met mening verby ons gejaag en dwing Johan om weer in die middel van die pad stil te hou. Hulle lyftaal spreek van “hier kom moeilikheid.” Ons manne binne in die kombi maak ons gereed vir ’n genadelose weerwraak deur die “vyand.” En dan doen Johan dit weer. Hy tru agteruit, stamp een van die motors dat hy ’n paar voet van rigting verander, vat die gaping, sit die kombi in eerste rat, jaag weer tussen twee motors met ’n geskuur en ’n geknars deur, en jaag voort in die rigting van die Oosrand. Tot ons grootste verbasing en verligting blaas die Heidelbergers die aftog. Ons het uit  die kloue van ’n klompie oorloglustige manne ontsnap.
Maar nog is dit het einde niet. Die kombi is aan die kante en agter beskadig. As ons met die gewonde voertuig terug Kollege toe ry, gaan ons dit sonder twyfel by die Rektor ontgeld. Wat nou gemaak? Danie Pieterse, wie se tuiste Brakpan is, kom met ’n oplossing vorendag. Hy het ’n vriend wat duikklopwerk verrig. Ons sal die kombi na hom toe neem en soebat dat hy dit vir ons so gou moontlik deur die loop van die nag herstel. Die barmhartige samaritaan stem genadiglik in om die ontydige herstelwerk aan te pak. Ons word met ’n gesinsmotor laatnag terug na ons alma mater vervoer.
Die kombi word die volgende middag laat by die SR-kantoor afgelewer. Die skade is nie maklik sigbaar na die spoedeisende herstelwerk nie. Die Rektor was salig onbewus van die drama wat hom die vorige aand afgespeel het. Tydens die Interkollege wat ’n paar dae later plaasgevind het, het dit duidelik geblyk dat die breuk tussen die twee kampusse nog lank sou vat om te genees.

Interessantheidshalwe kan genoem word dat Bakkes de Jager later die hoof van een van die grootste uitgewers in ons land en Skip Henderson die hoof van Hugenote Hoërskool aan die Oosrand geword het.


Bydrae 6: Sjaas Reineke
Van die hand na die hare
As graadstudente van die sestigerjare het ons ons studiegidse, voorgeskrewe werke en skryfmateriaal in handtasse van een lesing na die ander gekarwei. Aan die einde van een so ’n lesing tel ons ons tasse op om die lokaal te verlaat. Ons kom onmiddellik agter dat daar iets klewerigs aan die handvatsels is. Tot ons ontsteltenis ontdek ons dat ons hande met een of ander onwelriekende vloeistof besmet is. Dit neem ook heelwat inspanning om daarvan ontslae te raak. Ons inligtingsbronne deel ons mee dat die poetsbakker niemand anders as Margot Vera is nie – een van ons mede-studente wat saam met ons klas draf.
Daar word gekoukus om weerwraak te neem. Een van ons kom met die plan vorendag dat ons haar aan die einde van ’n lesing doelbewus agter hou. Hy sal dan ’n bekooksel voorberei wat vir haar hare bestem is. Die plan word twee dae later tot uitvoering gebring. Margot se aandag word aan die einde van ’n lesing vir ’n “ernstige” mededeling gevra. Ons aangewese planuitvoerder haal die konkoksie uit, ons pen haar arms vas en hy smeer die ewe onwelriekende mengsel in haar hare. Die reuk is genoeg om selfs ’n muishond af te skrik.
Dae later omring die “bedompige” reuk haar nog wanneer sy by ’n mens verbystap. Sy bely dat dit baie pogings gaan verg om die stank uit haar hare te kry. Ons besluit dat die kontaminasie van die hand na die hare sy doel gedien het en gee mekaar die hand van vrede.
Na haar studentejare het Margot Vera een van die land se top vroue-atlete in die 400- meter geword.
Van vernedering tot oorwinning
Nadat ek as Departementshoof by my alma mater aangestel is, word ek ingespan om die langafstandatlete af te rig. In daardie stadium is ek nog fiks genoeg om saam met hulle te oefen. Ek is veral opgewonde en beïndruk deur die besondere talent van Susan Vosloo, die uithaler-atleet onder die dames. Sy verower sonder uitsondering die eerste plekke tydens die Interkollege-atletiekbyeenkomste.
Tydens een van die oefensessies hardloop ek saam met haar en ’n klompie manstudente na die ou RAU-kampus toe. Daar is ’n gholfbaan wat aan die universiteitsgronde grens. Op ons roete terug na die GOK-kampus steek ons die gholfbaan oor. Die mans het reeds vooruit gehardloop en vir die eerste keer in my loopbaan as afrigter kom ek agter dat ek ’n vroue-atleet terughou terwyl sy langs my draf. ’n Man is mos veronderstel om die pas aan te gee. Beleefdheidshalwe vra ek Susan of sy nie maar haar pas wil versnel en my agterlaat nie. En dis presies wat gebeur. Binne ’n paar minute is sy ’n klein figuurtjie honderde treë voor my en draf ek  maar aan met ’n groot verleentheid wat ek as man moet verwerk.
’n Paar weke na hierdie gelykmakende ervaring besluit ek om haar vir die SAUK-padwedloop in te skryf as voorbereidende oefening vir die Interkollege. Van die atletiekklubs se mees prominente damesatlete skryf ook vir die wedloop in. Die afstand wat die atlete moet voltooi, is twaalf kilometer lank en eindig weer naby die SAUK in Aucklandpark. Die tv-kommentator Kim Shippy saai die wedloop uit. Die atlete spring weg met ’n hele paar top dames in die geledere. Kim Shippy noem hulle by die naam as moontlike wenners vir die geleentheid. Die eerste mansatlete kom by die wenpaal aan en Kim Shippy kondig aan dat die damesatlete binnekort hulle verskyning sal maak. En dan kom die eerste damesatleet in sig. Kim is onmiddellik in die moeilikheid want hy kan haar nie plaas terwyl sy die wenstreep oorsteek nie. Sy is nie een van die gunstelinge wat hy vroeër genoem het nie. Hy vra om verskoning en belowe dat hy so gou moontlik sal vasstel wie die wenner onder die dames is. ’n Rukkie later deel hy die luisteraars en kykers mee dat die onbekende atleet ’n ene Susan Vosloo van die Goudstadse Onderwyskollege is.

Sy verleentheid op daardie dag was eintlik groter as myne ’n paar weke tevore toe Susan my haar hakskene gewys het. Om te kompenseer vir sy flater, reël hy ’n spesiale televisie-onderhoud met haar. Die atletiekwêreld neem kennis van hierdie nuwe talent wat op die voorgrond getree en van die land se beste vroue-atlete uitgestof het. Hierdie puik prestasie van Susan het beslis daartoe bygedra dat ek my vernedering van ’n paar weke gelede kon verwerk en filosofies kon aanvaar in die lig van haar opspraakwekkende oorwinning.

Bydrae 7: Willie Botha
My Goudstadjare: 1961 tot 1964 – Willie Botha

Matriek – aanloop tot Goudstad

Aan die begin van my matriekjaar (1960) het ek nog aspirasies gehad om na matriek ingenieurswese aan Tukkies te gaan studeer. Een van die redes daarvoor was die feit dat ons ’n baie goeie Wetenskaponderwyser gehad het, mnr. A.J. van Niekerk (by ons beter bekend as Bollies). Wetenskap was dus my gunstelingvak en ook die vak waarin ek die beste presteer het. Tot aan die einde van standerd 9 het ons ook baie goeie Wiskunde-onderwysers gehad, wat Wiskunde ook in daardie stadium ’n gunstelingvak gemaak het.  Ek het ook van Aardrykskunde gehou omdat ek van kleins af die heimlike begeerte gehad het om eendag die wêreld te gaan bereis. Die Duitse klasse by mnr. J.A. Kotzé was ’n plesier. Later jare sou ek baie dankbaar wees vir die taalteoretiese grondslag wat Duits by my gevestig het. Engels was maar net nog ’n vak, maar tog met ’n interessantheid deur die kennismaking met Macbeth en Madame Curie. Die laaste Engelse gedigte wat ons opgewonde gehad het, was dié wat Van Johnson (bynaam van mnr. D.J. Kotzé) aan ons bekend gestel het: Beau Brocade, Charge of the Light Brigade, The Highwayman en ander. Was dit nie vir die ekstatiese belewenis van die Afrikaanse letterkunde by mnr. Fanie Nel (later dosent aan Goudstad) nie, was Afrikaans ook maar net nog ’n vak.

My matriekvakkeuse het my dus voor ’n hele spektrum naskoolse studierigtings te staan gebring – net nie in ’n handelsrigting nie.

My pa is egter in April van my matriekjaar oorlede – ’n gebeurtenis wat al my toekomsplanne aan ingrypende herbeplanning sou onderwerp. Ten spyte van sy dood sou daar in elk geval nie geld beskikbaar gewees het vir my onrealistiese toekomsdrome as ingenieur nie – in elk geval ’n professie wat (het ek by nabaat besef) nie in ooreenstemming met my persoonlikheid en geaardheid sou wees nie. Wat dit wel teweeg gebring het, was die feit dat ek onmiddellik realisties sou moes besin oor waarheen ek na matriek sou gaan.

Iewers gedurende ongeveer die middel van ons matriekjaar ontvang ons ’n prospektus van die te stigte Goudstadse Onderwyskollege – iets waarvan ons voor die tyd nie eens bewus was nie. Dit was dus my geleentheid om verder te gaan studeer. Afgesien van die verskillende onderwysdiplomas wat hulle sou aanbied, sou hulle volgens die prospektus ook die volgende grade aanbied: B.A., B.Com. en B.Sc. Ek het my dus gereed gemaak om vir ’n B.Sc.-graad in te skryf.

Ek het begin uitsien na student-wees en die rugby wat ons daar sou speel.

Goudstad-eerstejaar

Tydens ons registrasie is die eerste mede-student wat ek daar ontmoet, wyle Joris de Vleeschauwer (later professor in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van die Noorde). Min het ek besef dat ek baie jare later vir sy dogter Afrikaanse taalkunde aan die toenmalige RAU sou aanbied.

Na ’n verpligte mediese ondersoek aldaar – nogal deur ’n vroulike dokter, wat destyds vir ons ongewoon was – registreer ons en moes ons vir die kursusse van ons keuse inskryf, in oorleg met ’n keurkomitee waarvan een van die lede mnr. J.C. van Tonder was – ons destydse skoolhoof, in daardie stadium inspekteur van onderwys. Hy was ook die pa van my matriek-skoolvriend, Christo, ons hoofseun in 1960.

Tot my ontsteltenis deel die komitee my mee dat die kollege nie meer die B.Sc.-graad sou aanbied nie omdat daar nie laboratoriumfasiliteite beskikbaar was nie. My enigste heenkome sou dus ’n B.A.-graad moes wees. Hulle hou die betrokke kurrikulum se kursusspektrum aan my voor. Ek kies toe Wiskunde, Aardrykskunde en Sielkunde. Ek het toe nog twee vakke nodig. Hulle weet toe te vertel dat Sosiologie interessant is – en ek kies dié ook. Hulle vra toe of ek beoog om eendag by ’n Afrikaansmediumskool te gaan skoolhou en op grond daarvan oortuig hulle my om vir die kursus Afrikaans-Nederlands in te skryf. Teen my verwagtinge in beland ek toe in ’n totaal ander akademiese sfeer.

Ons eerste ontmoeting met die toegewyde en uitstekende taalkundedosent, dr. T.C. Bothma (en die inhoude van die kursus aan ons voorgehou), het my oordeel oor die kursus Afrikaans-Nederlands totaal verander. Skielik het Afrikaans vir my ’n verlede gekry wat verder gestrek het as die twee taalbewegings waarvan ons op skool geleer het. Ons het geleer dat Afrikaans se spore deur die eeue getrap is: vanuit die hipotetiese onoorgelewerde Indogermaans wat omtrent 5 000 jaar gelede gepraat is, deur Oergermaans, Wes-Germaans en Nederlands. Ons het geleer van die Germaanse taalfamilies: Oos-Germaans (Goties) en Noord-Germaans (Sweeds, Noors, Deens en Yslands). Ons het geleer dat Engels, Duits, Nederlands en Fries as Wes-Germaanse tale verwant is. Dit was so anders as dit wat ons op skool in die taalkunde geleer het. En dan het ons ook kennis gemaak met die taalwetenskaplike strukture wat die fonetiek, fonologie, morfologie en sintaksis onderlê. Gou het ek besef dat die term wetenskap nie net die natuurwetenskappe beskore was nie!

Ons letterkundedosent was wyle dr. Jan Senekal, oud-onderwyser van D.F. Malan, met ’n doktorsgraad in Duits en ’n honneursgraad in Afrikaans. Hy het hom later verder in die Afrikaanse letterkunde bekwaam en uiteindelik professor in Afrikaanse letterkunde geword. As ’n ware heer onthou ek hoedat hy op ’n keer sy sakdoek vir ’n damestudent aangebied het om haar trane af te vee – nie deur hom teweeggebring nie. Sy kommentaar op my eerste letterkundetoets wat ek geskryf het, sal ek ook nooit vergeet nie. Ek weet tot vandag toe nie of dit ’n kompliment, belediging of ernstige teregwysing was nie. Hy het geskryf: “Mnr. Botha, u beskik oor die vermoë om goeie antwoorde te skryf indien u die kennis het.”

Dr. Senekal het ’n baie belangrike leesraamwerk vir die poësie en dramas van N.P. van Wyk Louw by my gevestig. Hy het ons eintlik vir die eerste keer met Van Wyk Louw laat kennis maak, in die dae toe die tematiese dimensie van ’n literêre werk nog voorop gestel is. Hy het verduidelik en geïllustreer hoedat Van Wyk Louw se temas die universele (algemeen-menslike) bestryk, temas wat ek baie later jare in sy werk kon ontgin toe ek navorsing gedoen het oor Van Wyk Louw se hantering van die konsepte ‘daad’, ‘krag’, ‘mag’ en ‘moraliteit’ – inderdaad aspekte wat met die algemeen-menslike verband hou.

In teenstelling met die klasaanbiedings wat ons in Afrikaans-Nederlands en Wiskunde gekry het, het sommige van die ander dosente maar net die Unisa-studiehandleidings saam met ons deurgelees. Ons graadstudie het natuurlik deur Unisa geskied, gefasiliteer deur die Goudstaddosente.

Ons het nie regtig begryp wat universiteitstudie behels nie omdat daar nie senior studente was wat ons so ’n bietjie kon touwys maak nie. Ons het wel ’n paar klasmaats gehad wat die vorige jaar nie suksesvol aan bepaalde ander universteite was nie en toe weer deur Goudstad kom probeer het. Maar vir hulle was Unisa ook ’n totaal nuwe en vreemde ervaring. Meestal het hulle raad egter gehandel oor hoedat ’n mens die studentelewe moes geniet.

As ek reg onthou, was daar net sowat ’n dertig of wat van ons wat graadstudie onderneem het, sowel B.A.- as B.Com.-studente. Daar was ook ongeveer ’n dertigtal studente wat vir die eerstejaarskursus in Afrikaans-Nederlands geregistreer was. As gevolg van ’n geweldige akademiese slagting aan die einde van die eerste jaar was ons ongveer agt studente wat Afrikaans-Nederlands II geneem het – en uiteindelik net vier wat Afrikaans-Nederlands III geneem het. In die Sielkunde III-klas was ons darem ’n handjievol.

Omdat ons Unisa-studente was (vir ons graadstudie), moes ons saam met ander buitemuurse studente eksamen skryf. Daarvoor moes ons by die terrein van die Randse Skou in Braamfontein aanmeld. Een van die groot uitstalsale is as eksamenlokaal ingerig – en daar het ons dan saam met ’n magdom vreemdelinge eksamen geskryf. Ek hoef seker nie te noem nie dat die atmosfeer aldaar hoegenaamd nie akademies-stimulerend was nie.

Ek het myself gelukkig geag om die eerste jaar te geslaag het (darem ook nie te sleg geslaag nie) omdat ek gereken het dat – soos op skool – ek maar net voor die eksamen kon begin leer om die jaar se werk in elke kursus baas te raak. Gelukkig het ek vir die tweede jaar en die jare daarna elke keer ’n merietebeurs ontvang op grond van elke voorafgaande jaar se uitslae – soos wat dit ook die geval was in die eerste jaar op grond van my matriekuitslae. Onder moeilike finansiële omstandighede was elke jaar se R50-merietebeurs ’n welkome meevaller.

In hierdie tyd was sport vir my belangrik. Tydens die eerste plaaslike atletiekbyeenkoms waar ons in verskillende huise (kleure) ingedeel is, het ek my vir die hoogspringitem ingeskryf, seker op grond van die feit dat ek die voorafgaande jaar ’n interbond-hoogspringatleet was. Omdat ons so gering in getal was, het iemand my oorreed om ook vir die 800 meter in te skryf, ’n item wat net voor die hoogspring sou plaasvind. Voorheen het ek nog nooit aan baanitems deelgeneem nie. Tydens die wegspring was ons ’n hele aantal atlete – die presiese getal kan ek nie meer onthou nie. Na 400 meter het ek nog so vars gevoel dat ek geoordeel het dat ek maar die voortou kon neem, min wetend dat uitputting en lamheid jou op 600 meter soos ’n aanvaller uit die donker oorval. Uiteindelik het net vier van ons die wedren voltooi – my heel laaste 800 meter-wedren!

Met lam bene het ek toe gaan hoogspring. Ek het die item gewen. Uiteindelik was ons agt atlete wat Goudstad tydens sy eerste Interkollege-atletiekbyeenkoms op die Pilditch-stadion in Pretoria moes gaan verteenwoordig, met geen onderskeid tussen seniors en onder-negentiens nie. Die meeste van ons was junior atlete wat toe aan dié senior byeenkoms moes gaan deelneem. Twee Goudstad-atlete het aan die hoogspring deelgeneem. Ek het toe ’n plek behaal – die enigste van al ons atlete – en toe die aankondiging gemaak word, word my hoogspringmaat se naam uitgelees. Hy het onmiddellik na my toe gekom en gesê hy gaan die fout nie regstel nie, waarop ek geantwoord het dat ek nie ’n probleem daarmee sou hê nie. Het ek die eerste plek behaal, het ek miskien anders daaroor gevoel.

Ons eerste rugbywedstryd (met min voorbereiding voor die tyd) as onder 19-span was ’n katestrofe. Ons speel toe teen Wits, in daardie tyd elke jaar die kampioenspan. Ons verloor toe 95 – 0. Sjaas vertel dat een van ons spanlede se ouers wat na die wedstryd kom kyk het, enige verbintenis of verwantskap met ons span op die pawiljoen ontken het. Ons rugbybestuur het toe onmiddellik ingegryp, ons onttrek uit die onder 19-kompetisie en ons as seniors in die derde of vierde liga ingeskryf. In  hierdie liga het ons teen ruwe manne te staan gekom. Ons het op ’n keer tydens ’n wolkbreuk gespeel, ’n ander keer onder spreiligte (wat baie ongewoon vir daardie tyd was) – en ook teen ’n span wat net uit dowe lede bestaan het. Keer-op-keer het hulle ons die grond in geduik as die fluitjie reeds geblaas het. Uiteindelik het ons baie goed gevaar in die liga. Ek kan nie onthou of ons die liga gewen het nie, maar as ek reg onthou, is ons die volgende jaar na ’n hoër liga gepromoveer.

Ek en twee van my skoolmaats, Hendrik Botha en Jan Nienaber, het elke dag per fiets tussen ons huise in Crosby en die kollege in Cottesloe gery. Die Sentechtoring (vroeër die Herzogtoring, en later die Brixtontoring genoem) was in aanbou. Ons roete het daagliks daarlangs gegaan – in die oggende die steil afdraend in Henleylaan af en smiddae die steil opdraend die bult op. So het die toring langs ons heen-en-weer-ryery verrys. Later, tot aan die einde van die jaar, was dit net ek en Hendrik oor omdat Jan besluit het dat hy nie meer onderwys wou studeer nie. Gelukkig kon ons van tyd tot tyd saam met André Schoeman ry omdat sy in Aucklandpark gewoon het en die eerste deel van haar roete tot by Henleylaan, ook per fiets, met ons gedeel het. Ander studente het met busse, trems, treine en motors kollege toe gekom. Trems het nog destyds tussen Newlands en die stad hulle roete ook deur Brixton, Jan Hofmeyer en Vrededorp gehad.

Goudstad-tweedejaar

As tweedejaars was ons nou die senior studente. Baie van die tweedejaars het hulle nuutverworwe status veral tydens ontgroening van die eerstejaars tentoongestel. Ek het nie erg daaraan gehad nie en het my vir die res van my studentedae nie met ontgroening bemoei nie. Boonop was ’n paar van my ou skoolmaats ook nou eerstejaars en dit sou benede my waardigheid wees om hulle aan my “senior status” te onderwerp – mense soos Johan Vermeulen wat saam met my in matriek was en eers ’n jaar in die Lugmaggimnasium deurgebring het, en dan Rommie van Biljon, Pierre van Wyk en John Flowers wat ’n jaar na my in matriek was. My beskouing oor ontgroening was ook dat dit aan die belaglike grens – iets wat my later toe ek ’n koshuisvader by RAU was die gramskap van die studente op die hals gehaal het.

My “nuwe status” het ook veroorsaak dat ek nie meer per fiets kollege toe sou kon gaan nie. Waarskynlik sou dit nie bevorderlik vir my selfbeeld wees nie – én Hendrik het na ’n jaar besluit om nie verder te gaan nie en André Schoeman se ma het haar nou met die groen Volkswagen heen-en-weer vervoer. Ek sou dus ’n fietsry-enkeling wees!

Die alternatief was dus die trein – soggens vanaf Langlaagtestasie tot in Braamfontein, dan per voet na Cottesloe – nogal ’n paar kilometer vanaf Braamfonteinstasie. Gelukkig was daar ’n hele paar ander studente wat vanaf die Wesrand dieselfde roete gevolg het – en dan het twee eerstejaars, Kobie Cornelius, wat in dieselfde straat as ons gewoon het, en Joey Erasmus, ’n straat of wat weg van ons, ook dieselfde weg gevolg. Die aangename geselskap, grappies en gekskeerdery het die pad tussen Braamfonteinstasie en die kollege vir ons baie kort gemaak. Smiddae was dit meestal ’n alleen-tog omdat graadstudente se roosters minder vol was en ons gewoonlik vroeër kon huis toe gaan.
Eerstejaarstudente moes senior studente vra om hulle na die eerstejaarskonsert te vergesel. Kobie het my gevra en ons het die aand baie geniet.

Ek het in my tweede jaar nie meer aan atletiek deelgeneem nie, maar rugby was steeds vir my belangrik. Ons het nou in ’n hoër liga gespeel en baie goed gevaar. Ons het ook twee interkollege-wedstryde gespeel – een teen die Durbanse Onderwyskollege en die ander een teen die Heidelbergse Onderwyskollege. As ek reg onthou, het ons nie waffers gevaar teen Durban nie, maar wel teen Heidelberg goed gevaar. Vanaf my tweede jaar het ek erns gemaak met my studie. Daarom het ek driekwart deur die rugbyseisoen, wat oor ’n baie lang periode gestrek het, besluit om liewer op te hou rugby speel – juis omdat die Unisa-eksamen reeds in Oktober ’n aanvang geneem het en ons oor die die hele jaar se werk eksamen geskryf het. Daar was nie iets soos semesterkursusse wat afgeskryf kon word nie. Die rektor het gou te hore gekom dat ek opgehou het om rugby te speel. Om een of ander duistere rede het hy seker gedink dat ek ’n goeie rugbyspeler was. Tydens ’n Maandag-saalopening (want ons was nog baie skools) laat hy my toe voor al die studente opstaan en betig my oor die feit dat ek nou nie meer rugby speel nie. Dit het my nie gemotiveer om weer te begin speel nie, waaroor ek later nooit spyt was nie.

In ons tweede jaar was daar net ’n paar van ons wat vir vier tweedejaarskursusse ingeskryf het. Ek wou nog ’n eerstejaarsvak (Duits) as vyfde vak neem. Die komitee wat saam met ons oor ons vakkeuses besin het, het my egter sterk afgeraai. My kursusse was toe Afrikaans-Nederlands II, Sielkunde II, Aardrykskunde II en Sosiologie II. Ons het nog dieselfde dosente vir Afrikaans gehad, mnr. Matie Potgieter vir Sielkunde, mnr. Van Rooyen (wat later jare saam met my skoolgehou het nadat hy die kollege verlaat het) en mnr. Boet Muller vir Aardrykskunde. Mnr. Boet Muller was ’n nuwe aanstelling. Ons het baie agting vir hom gehad en sy klasse was werklik baie aangenaam om by te woon. Hy het baie moeite gedoen en het ook ’n baie innemende persoonlikheid gehad. En ons was net vier studente in die Aardrykskunde II-klas: Fanie Oosthuizen, Frans Lategan, André Schoeman en ek. Later sou ek en mnr. Muller kollegas wees toe hy professor binne die Fakulteit Opvoedkunde by RAU was en ek binne die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gewerk het. Ons het saam op die senaat van die Windhoekse Onderwyskollege gedien en is ’n paar keer saam Windhoek toe vir die bywoning van senaatsvergaderings aldaar.

Ek het die meeste van die inhoude van my tweedejaarskursusse interessant gevind. Sosiologie het my egter nie werklik geval nie, en later sou ek spyt wees dat ek nie liewer Duits in die plek van Sosiologie geneem het nie. Duits sou ook direkter aangesluit het by my latere loopbaan as taalkundige.

Dit het akademies goed gegaan, maar die eksamen was ’n nagmerrie as gevolg van die eksamenrooster waarin Afrikaans II en Aardrykskunde II direk na mekaar, agtereenvolgens oggend-middag, oggend-middag, oggend-middag, oggend geskeduleer was: vier vraestelle vir Afrikaans-Nederlands II en drie vraestelle vir Aardrykskunde II. As ek reg onthou, was dit drie-uursessies, behalwe vir die laaste Aardrykskunde-vraestel (die praktikum) wat vir ’n vieruursessie geskeduleer was. Van ons studente wat albei hierdie kursusse geneem het, was ek die enigste wat albei geslaag het. Ek dink ek was maar net gelukkig, maar dit het meegebring dat ek nie Aardrykskunde as hoofvak kon neem nie omdat die kollege nie bereid was om ’n dosent vir een student af te staan nie en hulle geredeneer het dat ek in elk geval nog drie ander vakke het waaruit ek hoofvakke kon kies.

Die eksamen het uiteindelik goed afgeloop en ek het redelik goed geslaag.

Goudstad-derdejaar

Dit het akademies goed gegaan in die derde jaar.

Vir toelating tot die eksamen in Sielkunde III het ons twee omvattende navorsingsprojekte gehad om te voltooi – een waarvan ons die navorsingsonderwerp self kon kies en die ander die afneem van voorgeskrewe toetse (in die vorm van vraelyste) by ’n plaaslike laerskool en dan die statistiese verwerking daarvan op grond van ’n verskeidenheid statistiese tegnieke, ingebed in die vraestel oor navorsingsontwerp en navorsingsverwerking. Mnr. G.C. de Beer Pretorius het hierdie afdeling vir ons aangebied. Ek en hy het ’n baie goeie dosent-student-verhouding gehad. Soms het ek op grond daarvan ’n bietjie rammetjie-uitnek geraak; dan het hy my taktvol en vriendelik betig. Ek onthou dat wanneer ons hom ’n vraag oor die statistiek gevra het, hy altyd gesê het: “Gebruik jou noodle.”

Die gevolg was dat ek toe maar my “noodle” gebruik het.

Gedurende die Julievakansie het ek toe die voorgeskrewe statistiekhandboek geneem, deurgewerk en op grond van my nuutverworwe kennis die voltooide vraelyste aan verskillende statistiese ontledingstegnieke onderwerp. Na drie weke het ek my resultate in ’n volledige foliogrootte skrif weergegee gehad. Dié sou dan by die betrokke dosent by Unisa ingelewer moes word vir evaluering.

Na die Julievakansie was daar heelparty van my medestudente wat nog nie die werk gedoen het – of kon doen nie.  Die gevolg was dat van hulle my voltooide projek voor indiening geleen het, net “om te kontroleer of hulle min of meer dieselfde resultate verkry het”. Nodeloos om te sê dat almal nie “gekontroleer” het nie. Waaroor ek spyt is, is die feit dat ek die besondere folioskrif die volgende jaar vir ’n paar vriende (toé in húlle derde jaar) geleen het – en nooit weer teruggekry het nie!

Die ander projek was ’n houdingsopname. Omdat die sestiger-letterkunde toe aan die orde van die dag was, en dit baie kontroversie tot gevolg gehad het, het ek besluit om mense oor ’n wye spektrum van die samelewing se houdings oor die sestiger-letterkunde te toets. Dit het interessante resultate opgelewer. Ongelukkig het ek dié ook die volgende jaar uitgeleen en nooit weer teruggekry nie.

Met die eksamen het dit tot voor die laaste vraestel goed gegaan.

Ek het goed gevoel oor die vier vraestelle wat ek vir die kursus Afrikaans-Nederlands III geskryf het. Die eerste twee Sielkunde III-vraestelle het ek ook goed beantwoord. Toe breek die heel laaste vraestel van my voorgraadse loopbaan aan: derde Sielkunde III-vraestel wat oor navorsingsontwerp en navorsingsverwerking handel. Ek was goed voorberei. Ek het die gewoonte gehad dat ek die oggend voordat ek ’n vraestel moes skryf, hoegenaamd nie weer na die werk wat ek voorberei het, gekyk het nie. Sowat vyf-en-veertig minute voordat ons die eksamenlokaal moes binne gaan, vra André Schoeman my of ek vir haar een of ander statistiese verwerking kan verduidelik. Wie sou vir André kon nee sê? Terwyl ek nog op die wit papier in die helder sonlig vir haar verduidelik, word alles skielik groen voor my op grond van die weerkaatsing van die sonstrale op die papier – en ek sien niks meer nie. Nadat die eksamen reeds begin het, het dit my ongeveer ’n halfuur geneem om myself in so ’n toestand te kry om te begin skryf – gepaard met die paniek dat ek nie gaan klaarkry nie.

Die afwagting voordat die eksamenuitslae beskikbaar sou wees, was letterlik hel. Ek het geweet dat dit goed gegaan het met Afrikaans-Nederlands en met die eerste twee Sielkundevraestelle, maar ek het nie geweet wat om van die derde Siekundevraestel te verwag nie. Destyds moes ’n student nog abei sy/haar hoofvakke gelyktydig slaag, anders moes albei herhaal word.

Uiteindelik die eksamenuitslae: baie goed gegaan in Afrikaans-Nederlands; goed gegaan in Sielkunde! Nou kon ek B.A. agter my naam skryf!

Goudstad-vierdejaar

Ons was natuurlik ook die eerste studente wat die nagraadse THOD-kursus gevolg het.
Akademies was die vierde jaar vir ons ’n atiklimaks. Die vakinhoude was nie regtig uitdagend nie en motivering vir kursusse wat ons nie regtig in belanggestel het nie, het ontbreek.

Gelukkig het mnr. Fanie Nel (my letterkunde-onderwyser op skool, want hy het nou ’n pos aan Goudstad aanvaar) vir ons Afrikaans-vakdidaktiek aangebied. Soos altyd, was sy klasse ’n belewenis. Aardryskunde-vakdidaktiek het ek en Frans Lategan (die enigste twee studente vir die betrokke kursus) by mnr. Jan Cronjé gekry.

Ons het geen erg aan Historiese Opvoedkunde gehad nie. Ene mnr. Potgieter het dit vir ons aangebied. Ons het hom Fluitjie genoem omdat hy met so ’n fluitstem gepraat het. Hy het egter ’n goeie sin vir humor gehad. Ek en Joris de Vleeschauer het langs mekaar in die klas gesit en en in plaas daarvan om aantekenige af te neem, het ons gesit en gediggies skryf. Toe hy ons betrap, het hy die gediggies gelees en nogal sy waardering oor die kwaliteit daarvan uitgespreek en gesê hy is darem bly dat hy die atmosfeer skep vir die skryf van gedigte.

Ons moes ook Tikskrif neem, vir ons in daardie stadium ’n baie vreemde verskynsel. Ons het ’n baie goeie dosent gehad, in daardie stadium matriek-hoofeksaminator vir Tikskrif. Ek het ’n onderskeiding vir Tikskrif gekry, nie omdat ek so vinnig getik het nie, maar omdat ek baie akkuraat getik het. Tot vandag toe is ek dankbaar oor daardie kursus wat ons moes neem – ’n kurus wat deur die jare (en veral in die rekenaartydvak waarbinne ons leef) sy dividende vir my gelewer het en steeds lewer.

Mnr. Daan Gresse het vir ons ook ’n Afrikaanskursus aangebied. Hy het later professor in Opvoedkunde by RAU geword – en nog later rektor van die Windhoekse Onderwyskollege. Ek onthou hoedat ek eendag voor een van ons periodes by hom voor die visdam met Rosa Visser gesit en gesels het en toe hy verbykom en my vra of ek nie klas toe kom nie, ek nee geantwoord het. Hy sê toe dat as hy met so ’n mooi meisie sou sit en gesels het, hy ook nie die klas so bywoon nie.


Oor die proefonderwys en my poging om weer in my vierde jaar rugby te speel sal ek maar later vertel.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking